|
Kgalagadi / Botswana trip Julie 2007
Louis Zeelie (aka Padloper)
Toer geselskap:
Koos en Louise van Eeden - Toyota Hillux 2.4 diesel
Ricus , Reinette , Ruan en Renaldi, Steenberg – Toyota Raider 2.4 petrol
Louis en Margaret Zeelie - Nissan Sani 3.0
Sondag 1 Julie 2007
Colesberg – Molopo Lodge = 904km
Vertrek vanaf Colesberg om 14h00. Die ander lede van die groep is alreeds by die Molopo Lodge en ons sou hulle daar ontmoet , 60km voor Prieska kry die Sani n papwiel.
Vervang die pap wiel. Ons het net 15 km verder gery toe die spaarwiel wat opgesit is het ook pap geraak het. Daar is geen selfoon opvangs nie en ons kan niemand bel vir hulp nie en dit begin donker word. Wat n manier om die trip te begin
'n Barmhartige samaritaan stop en bied aan om die papwiel te laat regmaak in Prieska. Om 19h00 is die man terug met die band en die Sani is weer op die pad. In Prieska koop ek n nuwe band en vertrek om 20h30 vanaf Prieska en arriveer om 23h00 in Upington waar ek hervul met brandstof en die bande nagaan.
Om 01h50 kom ons by die Molopo Lodge aan. Gelukkig is ons tent alreeds opgeslaan deur die ander lede van ons toergroep en ons gaan slaap heerlik na n besige dag.
Maandag 2 Julie 2007
Molopo Lodge en omgewing
Om 07h00 is ons flink uit die vere en reg vir n lekker ontbyt. Ons groet die ander lede van die geselskap, Koos, Louise, Ricus, Reinette en die 2 kinders. Na 'n lekker stewige ontbyt maak ons reg vir n besoek aan Lydia en Naas Mouton by Rooiduin sowat 20 km van die lodge af waar ons op die duine gaan speel het.
Almal geniet hulle gate uit waar ons teen die duine afgly, rol en al hierdie lekker goete. Op pad terug na die lodge ry ons by prof.Anna Rasa by Kalahari Trails aan en kuier die res van die middag by haar. Sy vertel vir ons o.a van die Boesmans van die omgewing wat in die Vodacom advertensie gespeel het (die een waar die boesmans rugby speel), wat nou hulle geld gekry het en almal na Upington toe is om inkopies te gaan doen. Daar is feitlik geen Boesmans in sig by Andriesvale nie. Die aand eet ons baie heerlik in die restaurant by die lodge.
Dinsdag 3 Julie 2007
Molopo Lodge - Mata Mata 180 km
Vroegoggend slaan ons kamp op en ons vertrek na die Kgalagadi. Die eerste 20 km van die pad is darem geteer. Die orige 40 km is seker een van die slegste stukkies paaie in Suid Afrika. Dit was beslis meer aanvaarbaar vir ons om op n pad langs die grensdraad te ry as op die hoof pad self. Die pad aan die Botswana kant is in n puik toestand. By Twee Riviere het ons ingeboek voordat ons na Two-rivers aan die die Botswana kant gery het. Hier het ons dokumentasie in plek gekry want ons sou later aan die Botswana kant by Bosobogolo gaan kamp het.
Nadat al die papierwerk afgehandel was het ons na Mata Mata vertrek. Op pad na Mata Mata kry ons twee ratels, 6 kameelperde, 4 vaalbos katte, 4 gompoue asook die gewone diere soos springbokke, gemsbokke, wildebeeste ens. Dit is die meeste diere wat ek in 5 besoeke aan die Kgalagadi gekry het tussen Twee Riviere en Mata Mata. Arriveer by Mata Mata laat middag en slaan kamp op. Die aand braai ons rustig n karoo tjoppie en ons slaap die aand soos klippe.
Woensdag 4 Julie 2007
Mata Mata
Hierdie is n rusdag. Die stilte in die kamp word wreed versteur deur n gesing en fluitjies wat aanhoudend geblaas word. By nadere ondersoek merk ons dat die plaaslike werkers korps besig is om te toi-toi. Sit later die namiddag en vroeg-aand by die uitkykpunt en sien baie diere.
Donderdag 5 Julie 2007
Mata Mata
Weereens n lekker rusdag. Stap rond in die kamp – die voels in die kamp is baie mak. Later die dag ry ons tot by Dalkeith watergat en neem pragtige fotos van gemsbokke. Op pad terug na Mata Mata, by Craugl Lokhardt val ek amper van my sitplek af toe ek n gemmer kat in die pad sien loop. Ek stop dadelik en neem fotos van die kat. Ek was baie teleurgesteld om die kat in die Kgalagadi tee te kom. Nie baie lank gelede nie het ek n artikel gelees oor die vaalbos katte in die Kgalagadi. 'n Vroue student van Tswani Universiteit het n studie van die vaalbos katte in die Kgalagadi gedoen. In haar studie het sy bevind dat die vaalbos katte in die Kgalagadi die suiwerste bloedlyn het van al die vaalbos katte in enige reservaat of bewarings gebied in Suid Afrika. Die rede : omdat die Kgalagadi so ver van enige stedelike of dorps gebied is. As daar dus gemmer katte in die Kgalagadi voorkom is die vaalbos katte van die gebied ook nie so suiwer nie.
Ons kuier die aan lekker om die kampvuur en luister na die getjank van die jakkalse.
Vrydag 6 Julie 2007
Mata Mata - Nossob 164 km
Vroeg-oggend word kamp opgeslaan en ons vertrek na Nossob. Ons sal vir die volgende 8 dae in Nossob staan. Ry oor die duinepad na Nossob en sien nie veel diere nie.
Arriveer by Nossob en slaan kamp op. Dit is altyd lekker om in Nossob te kamp. Ons kuier weer-eens die aand lekker om die vuur en ons maak n lekker potjie. Skaars was dit skemer of die jakkalse was die hele kamp vol. Dis die ‘trade-mark’ van Nossob.
Saterdag 7 Julie 2007
Nossob
Later die oggend sou ons die eerste keer leeus in die Kgalagadi kry. Agt pragtige jong leeus le reg langs die pad net anderkant Cubutje Quap. Hier kry ons die geleentheid om pragtige fotos van die leeus te neem. Later die middag het ons weer n draai by die leeus gemaak en nog pragtige fotos van hulle geneem. Ons was so naby as 5 meter van die leeus af. Terug by die kamp het ons by die winkel n draai gemaak om roosterkoeke op te tel wat ons bestel het. Van die plaaslike vroue bak die roosterkoeke op bestelling. Daar het ons n ou bekende op die rugbyvelde van die wereld raakgeloop. Tiaan Strauss was ook by Nossob om te kom uitspan. Toe Tiaan en ander mense wou hout koop het n seker persoon in n grys Cruiser al die hout voor die ander kampeerders opgekoop. Daar sou eers weer oor 4 dae hout beskikbaar wees by die winkel. So vleisbraai vir manne wat nie hout saamgebring het nie, was uit. Die manne was in n redelike woorde wisseling betrokke met die cruiser manne. Gelukkig vir ons, het ons ons eie hout gehad , so ons kon die aand heerlik vleisbraai en roosterkoeke eet.
Sondag 8 Julie 2007
Nossob
Vroeg oggend het ons begin om die voertuie te pak en na te gaan vir die volgende dag se tog na Bosobogolo.
Dit was die vroue se beurt om kos te maak en die vroue het ons almal lekker bederf met rys , aartappels en groente. Daar was ook n varkboud gaargemaak wat leter lekker crispy gebak was op die kole bedruip met mostert en heuning sous. Ons het soos konings geeet en toe later n rukkie gaan rus. Laat middag het ons een-een begin ontwaak en toe is ons getrakteer op beskuit en lekker moerkoffie. 'n Pragtige sonsondergang het n perfekte dag in die natuur afgesluit.



Maandag 9 julie 2007
Nossob – Bosobogolo 170 km
Om 07h30 toe die hekke oopmaak was ons gereed om te vertrek, maar o wee, die Sani het al weer n papwiel. Daar was gou hand bygesit deur Koos en Riicus en net na 08h15 was ons op pad na Bosobogolo. Die pad vanaf Nossob na Bosobogolo is n tweespoor sandpad met so hier en daar n sand duin om oor te gaan. Nie juis iets om oor bekommerd te raak as jy met n Sani ry nie. Die manne in die groep met die Toyotas was half skrikkerig vir die los sand. Die hele pad vanaf Nossob tot by Bosobogolo was dit nie een keer nodig om die Sani in 4 wiel dryf te sit nie. Die hele pad was gery in 4x2. Die twee Toyotas – 2.4 Diesel en 2.4 Petrol het die heel pad hulle hubs gelock gehad en by die sand duine het hulle 4x4 gesk@kel. Op pad na Bosobogolo het ons by twee geleenthede troppe elande teegekom. Steenbokke was ook volop. By Motopi 1 het ons middag-ete genuttig. By Bosobogolo 2 het ons gou gestop om die kampeerders daar te groet. Ons het hulle vroeer die week by Mata Mata ontmoet. Om 15h00 het ons begin kamp opslaan by Bosobogolo 1. Die aand het ons vroeg gaan slaap want die volgende oggend sou ons die ander panne in die gebied gaan besoek.

Dinsdag 10 Julie
Bosobogolo en omliggende panne 141 km
Vroeg-oggend het ons vertrek na die ingangshek by Mabuasehube. By Mabua was ons baie vriendelik ontvang deur die personeel by die ingangshek. Ons het by 'n nedersetting net buite Mabua drinkwater gekry. Die inwoners van die nedersetting, volgens hulle n klomp mense van Botswana parkeraad, het ons lank en isiggewend gesels oor die omgewing en sekere gebruike van die mense wat ons opgemerk het. By die nedersetting was hulle besig om kos in swart potte te maak. Op n draad onder n afdak het vleis gehang wat hulle gedroog het, soos ons biltong droog. Die vleis wat hulle gedroog het was die vleis van n leeu. Die leeu is deur hulle geskiet en die meeste vleis was aan die plaaslike bevolking gegee. Of die leeu binne of buite Mabua geskiet was kon ek nie uitvind nie. Nadat ons ons watervoorraad aangevul het, het ons vertrek na Mpaathutlwa pan, want volgens die personeel by die ingangshek was daar vir die afgelope 3 dae leeus by die pan. By die pan aangekom het n Amerikaanse toeris wat daar gekamp het, ons meegedeel dat die leeus ongeveer 'n uur vroeer oor die pan beweeg het in die rigting van Bosobogolo pan. Die hele area rondom die kamp plekke was oortrek met leeu spore. Die toilet se sitplek was ook vol byt plekke van die leeus.


Ons het hier by die pan ons kos trommels oopgemaak en lekker middagete genuttig.
Hiervandaan het ons vertrek na Mabua pan. Op pad het ons twee pragtige koedoes gekry. By Mabua is ons verder na Khiding pan – weer oor Mpaathulwa pan terug na Bosobogolo pan. Die hele roete die dag was n twee spoor sand pad. Die sand was baie swaar,los en dik gewees.
Met sonsondergang het ons gebraai en n pragtige sonsondergang oor die pan geniet. Na ete het ons gaan slaap want die volgende dag sou ons terug ry Nossop toe.
Woensdag 11 Julie 2007
Bosobogolo - Nossob 170 km
Vertrek vroeg oggend terug na Nossob. Op pad terug na Nossob toe, nie veel diere gekry nie. Die duine op pad terug het ook geen probleme vir ons besorg nie. Op pad van Bosobogolo na Nossob was daar net twee duine wat probleme kon besorg .Van die Bosobogolo kant af is hulle heelwat steiler as van die Nossob kant af. Maar as jy jou 4x4 opleiding ingedagte hou en genoeg momentum het sal die duine geen probleme besorg nie Ek het heelpad voor met die Sani gery vanaf Bosobogolo en het seker gemaak dat as n duin aangepak word ek my voertuig se toeter blaas om voertuie van voor te waarsku dat ek in aantog was, en so probeer om botsings te vermy.
Tot en met 15h00 die middag het ons op pad terug na Nossob toe voertuie gekry wat op pad was na Motopi toe. Hierdie mense sou verseker later in die donker moes ry om hul bestemming te bereik.
By Nossob aangekom het ons die voertuie net so laat staan om die volgende dag af te pak. Ons het nie kamp opgebreek by Nossop toe ons Bosobogolo toe gegaan het nie. Ons het die staanplek betaal vir die 2 dae wat ons weg was.
Donderdag 12 Julie 2007
Nossob
Dit is n lui-lekker dag. Ons hou die diere dop by die drinkgat en sien 'n jakkals met 'n af kakebeen. Nossob kamp het ook geen water nie die dag nie. Die pomp wat water moes voorsien staan. Die aand is daar net koue water in die mans storte. Dis nou terug na die army dae toe – koue storte in die winter. Die laaste drie dae was n lekker ervaring. Die trip Bosobogolo toe en terug en die koue storte is nie dinge wat jy elke dag ervaar nie. Dit is mos juis vir die uitsonderlike ervarings wat jy Kalahari toe gaan en ek het beslis die afgelope paar dae n hele paar sulke ervarings ervaar. Die nag vroeg-oggend – 03h30, brul n leeu my wakker. Die leeu is aan die suide kant van Nossob kamp – reg langs die omheining. Dit klink of hy reg langs die tent gebrul het. Dit was baie naby ek kon nou wel nie sy asemhaling hoor nie maar hy kon net sowel binne in my oor gebrul het. Dit was nog n ‘awesome’ ervaring , dit was verseker die naaste wat enige leeu nog aan my gebrul het.Ons tente het langs die draad gestaan.
Vrydag 13 Julie 2007
Nossob
Ons het stadig maar seker begin om die kamp af tebreek tot net die tente bly staan het. Die volgende dag sou ons huistoe vertrek. Na middag-ete het ons na Marie se draai gery. By Rrooiputs staan n klomp voertuie wat n cheeta n ent verder in die veld in dophou. Die cheetah is besig om die wild by die drink-gat dop te hou. Ons neem n paar lang-afstand fotos van die cheetah. By Marie se draai le daar drie leeus n ent weg van die drinkgat. Ons vertrek toe later terug na die kamp toe. Om 17h00 vertrek ons saam met Andre Butler as ons gids op n ‘sunset drive’ Hierdie was die beste rit wat ek nog meegemaak het in enige wildtuin. Kruger wildtuin ingesluit. Andre Butler was indrukwekkend en is een van die heel beste gidse wat ek nog teegekom het. Hy het oor elke dier, klein of groot, wat ons teegekom het, baie feite met ons gedeel. Ons het net tot by Marie se draai gery, toe het ons die drie leeus aangetref waar hulle besig was om na die drinkgat te stap. Die leeus het reg voor die voertuig verby gestap. Nie verder as n paar meter van ons af nie. Nou was Andre in sy element. Hy het al ons vrae beantwoord en hy het ons oorspoel met feite oor leeus. Ons het langer as n uur die leeus dopgehou , gevolg en hope fotos geneem. In hierdie uur het ek meer van leeus geleer as in my hele lewe. Hierdie uur was een van die mees ‘awesome’ natuur-ervarings wat ek nog in my lewe ervaar het.

Nadat ons vertrek het van Marie se gat af, het ons n groot-oor uil in die middel van die pad gekry. Hier het Andre ook vir ons interresante feite meegedeel oor die uil. Die verskil tussen n haas en 'n springhaas was ook op 'n baie feitlike manier aan ons verduidelik. Aan die einde van ons rit , naby Nossob kamp, het ons 'n ystervark teegekom , Andre het net so deeglik verduidelik oor die grootste knaagdier. Hierdie rit was werklik die beste nog vir my. Na die rit het ek en Andre nog 'n rukkie gesels oor die gemmer kat van Mata Mata. Hy het aan my interresante feite oor die gemmerkat genoem. Andre is ook aangestel as die hoofgids van die Kgalagadi en sy werkstasie sal op Twee Riviere wees. Hy sal ook die forum op die Sanparke webtuiste, wat deur Jannie behartig was, oorneem.


Saterdag 14 Julie 2007
Nossob –Colesberg 1070 km
Vroeg-oggend vertrek ons vanaf Nossob terug Colesberg toe. Net anderkant Casper se draai kry die Sani nog 'n papwiel. Dit was die 5de papwiel van die trip. Ek het hulle maar gevat soos hulle gekom het. Dit is nie aldag dat 'n mens 5 papwiele op n trip kry nie.Dit was deel van my Kalahari ervaring. By Askam was dit werklik bedrywig oral was mense en voertuie want die Askam derby sou later die dag geharloop word. Hierdie is die Kalahari se Durban July vir die mense wat nie weet nie. Ons het egter nie tyd gehad om hier te vertoef nie en het maar aangestoot na Upington waar ons gestop het en iets gekoop het om te eet en brandstof in te gooi . In Prieska het ons ook gestop vir brandstof. Om 22h45 was ons uit en tuis.
Al probleme wat ondervind was op die trip was net die papwiele.
Nissan Sani 3.0
Kilometers afgele: 3078 km
Brandstof verbruik gem : 7.0 km / l (14.2 l / 100km)
Beste verbruik : 8.7 km / l (11.4 l /100 km) Upington - Prieska
Swakste verbruik : 5.4 km / l (18.5 l / 100 km) Nossob–Mabua -Nosob
Toyota Hillux 2.4 diesel
Branstof verbruik gem: 7.85 km / l (12.7 l / 100 km)
Beste verbruik : 8.67 km / l (11.5 l / 100km) Nossob - Prieska
Swakste verbruik : 7.58 km / l (13.2 l / 100 km) Nossob-Boso-


|